Nuwe duo verower Suid-Afrikaanse musiekharte
Die nuwe groep, RymStoff (Christoff de Beer en Raymond Ray) se eerste enkelsnit, Hartvlinders, het groot opslae gemaak toe dit vroeër vanjaar vrygestel is. Dit het al op die Top20 van verskeie radiostasies se treffersparades – waaronder Bok Radio, Groot FM en East Rand Stereo – gepronk en is tans ook te sien op kykNET se Top20.
Die musiekvideo van die treffer is reeds deur meer as 5 000 mense op YouTube gesien en het ’n suksesvolle fondasie gelê vir hulle debuutalbum, Alles en Meer, om op voort te bou. “RymStoff bring ’n baie nuwe en unieke popstyl na die Afrikaanse mark toe. Die klank is energieke pop, met lekker ritmes en tong-in-die-kies-lirieke,” sê sanger, Hugo Ludik.
Alles en Meer, die groep se debuutalbum, is onlangs vrygestel. Dit bou voort op die unieke elektroniese popklank van die eerste enkelsnit en bestaan hoofsaaklik uit ’n versameling opgewekte deuntjies, met beteknisvolle lirieke, waarmee luisteraars kan identifiseer. ’n Paar rustiger, emosiebelaaide, snitte verseker dat daar iets op die album is wat aan elkeen se smaak sal voldoen. “Ek het die titelsnit geskryf, en die ander elf liedjies is oorspronklike werke deur Christoff, Hugo Ludik en Vaughan Gardiner. My persoonlike gunstelinge is Hartvlinders, 24, Weerlig in ’n Botteltjie en Koud Sonder Jou. Ek dink ook dat G.E.E.S. baie gewild gaan wees onder skoolkinders,” verklap Raymond. “Die album beteken vir ons baie. Die verskil tussen ons album en ander CD’s, is dat elke liedjie eg eerlik is. Ons het nie net vir onsself geskryf nie, maar vir almal wat ons musiek gaan koop en luister,” sê Christoff.
Beide kunstenaars het jare se ondervinding in die vermaakbedryf. Christoff (26), wat aan Hoërskool Montana gematrikuleer en onderwys by Noordwes Universiteit studeer het, was vir agt jaar lank in die groep Roots of Youth waarna hy by Kurt Darren se orkes (Die KD Band) aangesluit het as hoof-kitaarspeler. Hy het ook reeds naam gemaak as liedjieskrywer en talle van sy treffers, waaronder Love Song for a Broken Heart en Laaitie, kan gereeld oor die radio gehoor word. Dit is ook hoekom hy self aanklank vind by groot liedjieskrywers soos Jon Bon Jovi. Hierdie talentvolle musikant, wat sy musiekopleiding deur RockSchool en Unisa voltooi het, was ook vir ’n rukkie deel van die popgroep, ADAM, totdat Kyle Grant voltyds oorgeneem het.
Raymond Ray (32), ’n regte rocker van Rustenburg, het in 2003 by Gresham Records aangesluit en die trefferliedjie, Calling, uitgereik. Hy het al die verhoog gedeel met van Suid-Afrika se grootste kunstenaars en het steeds gereeld gehore op hulle voete wanneer hy – as hoofsanger – in verskillende Barnyard Theatre-produksies optree. Alhoewel hy geen formele musiekopleiding het nie, is sing nog altyd sy passie en laat sy stem hom toe om enigiets te sing – van Bryan Adams tot Axl Rose. Dié talentvolle sanger het nou wel nie een spesifieke mentor in die sangwêreld nie, maar het baie respek vir kunstenaars met sterk stemme soos Adam Lambert, Jon Bon Jovi, Celine Dion, Michael Bolton en Def Leppard. “Passie en liefde in enige taal inspireer my. Ek kyk baie na biografiese dokumentêre van bekende mense, wat bereik het wat hulle het deur geloof en passie vir dit wat hulle doen. Ek glo dat geloof en talent vir jou baie deure kan oopmaak,” sê hy.
Die duo se paaie het ’n rukkie terug met die van Hugo Ludik (mede-stigterslid van ADAM en ook eienaar van Muse Productions) gekruis en hy het dadelik hulle potensiaal raakgesien. “Albei het ongelooflike goeie en unieke stemme. Hulle is genuine musikante, wat self verskeie instrumente speel en musiek kan skryf,” verduidelik Hugo. Saam het hulle besluit op die naam RymStoff, wat ’n kombinasie is van Raymond en Christoff, en diegene wat meer kreatief dink kan dit ook as “Space Dust” interpreteer. Sover was hierdie gesamentlike avontuur vir hulle albei baie opwindend. “Ons grootste uitdaging is tyd omdat ons albei nog op hierdie stadium ander verpligtinge ook het. Toewyding is egter die geheime bestanddeel en ons werk hard om ’n sukses hiervan te maak,” sê Raymond. “Ek dink Alles en Meer is een van die sterkste debuutalbums in die Afrikaanse mark in ’n baie lang tyd. Alles op die album is oorspronklike liedjies, wat ’n baie vars en nuwe klank bring. Ek glo hierdie album is ’n móét vir enige Afrikaanse musiekliefhebber se versameling,” sê Hugo.
Die sangpaar het nog baie planne en drome en sal graag in die toekoms saam met groot name soos Riana Nel, ADAM, Charlize Berg, Joe Foster en Vaughan Gardiner wil musiekmaak en voor duisende mense wil optree. Hulle is ook reeds besig om aan liedjies te skryf vir ’n volgende album. “Ons het altyd baie idees, die uitdaging lê in hoe dit toegepas word,” sê Christoff. Die aanslag van RymStoff se nuwe album is vars en nuut en hopenlik ’n goeie aanduiding van alles en meer wat ons nog in die toekoms van hulle kan verwag.
LIEDJIES OP DIE ALBUM
Hartvlinders
Lippe
Hand Aan Hand
Gaan Nie Ophou Probeer Nie
Alles en Meer
Ek’s Jou Saterdagaand
Ek Wonder Soms
24
Koud Sonder Jou
Weerlig in ’n Bottelyjie
G.E.E.S.
Shake It