Sorina deel baba nuus in HOOFLETTERS op musiekvideo
Wat ‘n ongelooflike jaar is dit nie vir Sorina nie! Kort op die hakke van die nuus dat die Flooze ‘n ruskansie gaan vat om Sorina as kunstenaar in haar eie reg aan die wêreld bekend te stel, kom die nuus dat Sorina swanger is met haar tweede baba.
Boonop het Sorina die kans benut om die nuus met bewonderaars op ‘n unieke manier te deel – deur aan die einde van die musiekvideo van haar nuwe treffer “HOOFLETTERS,” ‘n leidraad te gee in die vorm van ‘n ultraklank skandering. ‘n Stralende Sorina en haar Braambossie, haar eerste kind, kan ook duidelik nie hul opwinding in die video wegsteek nie.
Maar voor die koms van die pienkvoet, berei Sorina haar voor vir die vrystelling van haar musikale baba, die nuwe CD ook getiteld “HOOFLETTERS.” Dit behoort binnekort landwyd beskikbaar te wees en gaan aanhangers aangenaam verras met ‘n Sorina wat ‘n ander kant van haar kunsinnige self, die dieper of ernstiger kant, gaan blootstel.
Almal ken Die Flooze… (en as jy nie doen nie, onder watter klip was jy die laaste paar jaar?) Sorina, oftewel Die Flooze, het opgang gemaak met gereelde verskynings in die gewilde sepie 7de Laan, maar toe mense eers agterkom sy kan sing en boonop kwaai moves gooi, toe’s die gort gaar. Met twee bekroonde albums (Vonk, Huisgenoot Tempo en Ghoema Toekennings), het Sorina besluit dis tyd om bietjie die Flooze ‘n welverdiende blaaskans te gee. Nie permanent nie sien… onkruid vergaan mos nie so maklik nie.
So… Dames en here, verwelkom op die musikale verhoog, Sorina. Kunstenaar in haar eie reg. Haar eerste, tot dusver ongetitelde CD as net Sorina behoort binnekort die lig te sien. En boonop gaan sy ‘n ander kant van haar kunsinnige self, die dieper of ernstiger kant, blootstel deurdat sy heelwat van die liedjies self geskryf het terwyl ‘n paar ander uit die pen van Johan Oberholzer (wat bekend is vir groot treffers vir onder andere Bobby van Jaarsveld) sal wees. Die sangeres en afrigter by Studio Cha, Carle Van Deventer, wat vir Sorina gehelp het met afronding werk aan haar nuwe album het die volgende te sê gehad: “Sorina se stem het ongelooflike potensiaal, haar “range” is ongelooflik en sy is super nootvas. Haar oorgang na kontemporere musiek sal maklik wees. Welgedaan Sorina!”
En as mens in ag neem watter opwindende reis Sorina se lewenspaadjie die laaste jaar of twee op was, kan mens tereg uitsien na die eindproduk. Nie net het sy die rol van mamma agter haar naam gevoeg nie (haar seuntjie Braam Riekert is in April 2014 gebore), maar sy het ook ontpop as gewilde rubriekskrywer vir die tydskrif LIG.
Vir meer inligting oor Sorina en oor die nuwe album, volg gerus haar alter ego @FloozeSorina op Twitter… sy mag dalk net deel wat Sorina mee besig is.