Bosbok Ses Films se vierde rolprent, Stuur groete aan Mannnetjies Roux, is die lang verwagte filmweergawe van die uiters suksesvolle verhoogproduksie met dieselfde titel.
‘n Tiener meisie, Engela (Lizelle de Klerk), besoek haar oom Frans (Ian Roberts) en tante Koba (Anna-Mart van der Merwe) se plaas in die Karoo tydens ‘n skoolvakansie.
Dan begin ‘n ontdekkingsreis: sy moet uitvind wie sy werklik is en waar sy vandaan kom. Drie besoekers in een week verander haar lewe onherroeplik en haar oom Frans se obsessie met die drie van Mannetjies Roux word ook helaas verklaar
Paul Eilers (Roepman en Verraaiers) is aan die stuur as regisseur en soos in sy vorige films is daar weer sterk spel deur al die akteurs.
Wilhelm van der Walt maak sy debuut op die silwerskerm as Anton en Elton Landrew as Toemaar lewer ook ‘n baie sterk vertolking.
Die nuweling Steffie le Roux se aangrypende vertolking van Anna is ook ‘n hoogtepunt in hierdie film wat soos die liedjie waarop dit gebaseer is en Mannetjies Roux se drie, ook volksbesit sal word.
Anna-Mart van der Merwe is oudergewoonte uitstekend as Koba. Sallas de Jager (Vervaardiger en mede-skrywer) was vol lof vir haar vertolking: “Koba is ‘n baie komplekse sterk vrou en Anna-Mart se vertolking bring al haar dimensies na vore en maak van haar ‘n karakter waarmee veral vrouens maklik mee sal kan identifiseer en soos met al haar vorige films skep sy ‘n unieke karakter wat lank deur gehore onthou sal word.”
Die draaiboek is geskryf deur Chris Torr (ook die skrywer van die liedjie), Sallas de Jager en Simon Torr. Die draaiboek is rofweg gebasseer op die musiekblyspel wat in 2011 teaters landswyd opgevoer was en meer as 50 keer uitverkoop was.
Anders as die verhoogstuk is hierdie nie ‘n musiekblyspel nie maar die klankbaan sluit wel heelwat van Laurika Rauch se musiek in wat spesiaal vir die film verwerk en opgeneem is. Laurika is self ook in die film te sien.
Stuur groete aan Mannetjies Roux is al van 13 Desember 2013 in filmteaters te sien.