Die Liefde is inderdaad kwesbaar.
Deur Jaco Lotriet
Afrikaanse film liefhebbers is tot op hede vanjaar reeds bederf deur ‘n verskeidenheid van gehalte produksies. Intussen herenig die fassinerende drama, Twee Grade van Moord, twee van Suid-Afrika se geliefde veteraan akteurs vir die eerste keer in 27 jaar.
Marius Weyers en Sandra Prinsloo het geen bekendstelling in die vermaaklikheidsbedryf nodig nie. Gesamentlik dra hulle by tot ongeveer 60 jaar se talent, op beide die grootskerm en teaterverhoog. Hul spel in Twee Grade van Moord, laat mens opnuut besef oor die kaliber van akteurs wat ons land oor beskik, aangesien hulle oor die jare heen gesien is as die pasaangeërs in die bedryf.
Weyers was al in meer as 35 vollengte rolprente en 100 teaterproduksies te sien, en spog met ‘n loopbaan wat verskeie toekennings en eerbetone insluit. Weyers was ook bekroon met ‘n erepenning van die Suid-Afrikaanse Akedemie van Wetenskap en Kuns vir sy bydrae tot die teater. Prinsloo het op haar beurt heelwat hoofrolle gespeel in toneelstukke deur van die bekendste internasionale dramaturge en Suid-Afrikaanse toneelskrywers. Haar toekennings is net so indrukwekkend en vanselfsprekend.
In vervaardiger Barry Strick se polsende, karakter-gedrewe film, Twee Grade van Moord, speel Weyers en Prinsloo, in wat gesien kan word as die toonbeeld van ‘n liefdevolle verbintenis as eggenote. Hulle lang en gelukkige huwelik kan skynbaar enige uitdaging oorkom. Die werklikhede van hoe die lewe ‘n manier het om te ontvou in hierdie twee karakters se lewens word ligtelik beklemtoon, in ietwat uitgerekte familie tonele, wat beduidend is op hulle onfeilbare liefde vir mekaar.
In teenstelling, met die verloop van die film, ondergaan hulle verhouding ‘n gedaanteverwisseling. Aleska Cloete, gespeel deur Prinsloo, is ‘n bekende Kaapse sielkundige. Haar blitsverkoper boek, Love doesn’t Hurt, sinspeel op haar en Weyers se prentjie-mooi verhouding totdat die noodlot tref. In ‘n oogwink kom sy tot die besef dat die liefde wél kwesbaar kan wees.
Die tema van die fliek is donker, maar nie noodwendig wat mens sou verwag nie. ‘n Doodgewone middelklas familie se lewens ontrafel op so ‘n ongewone manier, dat dit die fliekganger dwing om karakters in oënskou te neem en te bevraagteken wat hulle self in so ‘n situasie sou doen. Die vraag wat Aleska haarself vra is: ‘Wat sou die liefde doen?’
Hierdie vraag resoneer by die kyker op so ‘n uitsonderlike wyse dat dit ongemak veroorsaak. Beide Prinsloo en Weyers se spel is onberispelik. Hulle leef hulself met oorgawe in hul rolle in, wat oortuigend en met medelye op die skerm aan die kykers oorgedra word. Prinsloo vertolk haar rol met pynsende presisie. Weyers se ongewone situasie ontlok ‘n gevoel van intense meegevoel. Naderhand voel sy spel wel klinies en koud maar met goeie rede.
Die byspelers verleen ‘n eg ondersteunende gravitas aan die twee hoofspelers. Gesoute vetraan aktrise en onnavolgbare Shaleen Surtie-Richards speel die getroue familie huishoudster wat bond staan om die vrede te bewaar en as tussenganger in te tree. Surtie-Richards se alombekende humor kom sterk in die produksie na vore wat ‘n afleiding verleen aan ‘n andersins doodernstige film.
Kim Cloete het verras in haar rol as Frankie Pietersen, Aleska se regterhand en vervaardiger van haar dokumentêre film wat losweg op haar boek gebasseer is. Cloete se veelsydigheid as aktrise verstom aangesien y so gemaklik en aanpasbaar in haar rol voorkom.
Roelof Storm as Christiaan Cloete en Keenan Arrison as Ra’eed Shad was skitterend in hulle vertolking as gay liefdesgenote. Hul spel verleen gesamentlik ‘n egtheid aan die film, nogtans word hulle tonele delikaat en met grasie uitgebeeld, eerder as indringend.
Hilda Cronjé speel Tanya Basson. Wat die storielyn aanbetref, het ek met eerste opslag die vertolking van haar karakter as uiteenlopend aangesien. Dit word wel mettertyd duidelik dat die kyker deel met twee vroue, en twee moorde. Die een is manslag, ‘n weerspieëling van self gesentreerdheid; die ander ‘n onselfsugtige handeling. Albei hou nou verband met mekaar en vandaar die titel. Briljant paradoksaal.
Groot produksies word altyd ondersteun deur ewe indrukwekkende produksiespanne, waarvan Twee Grade van Moord getuig. Regisseur Gerrit Schoonhoven, Skrywer Anita le Roux, Redigeerder Ronelle Roets, sowel as Regisseur van Fotografie, Trevor A. Brown en Komponis Cornell Boshoff, het hulself goed van hul taak gekwyt om die verskillende aspekte van filmmaak effektief saam te snoer in ‘n produksie wat groot lofsang verdien. By die Indie Karoo Filmfees het hierdie Twee Grade van Moord reeds met die beste film toekenning weggeloop.
Twee Grade van Moord, deur Inverse Films en Full Faculty Films, in samewerking met Waterfront Film Studios en die Departement van Handel en Nywerheid, begin 22 Julie landswyd draai.