‘n Bietjie van ‘n Misverstand, Maatjies…
Thys & Trix is ‘n skaterlag aksiekomedie met Leandie du Randt Bosch en Bouwer Bosch in die hoofrolle.
Thys en Trix is broer en suster en ook ywerige maar onbeholpe polisiemanne. Hulle onderlangse twis veroorsaak dat hulle geskors word nadat hulle die polisiediens wéér in die verleentheid stel.
Speurder Solomons ondersoek die bedrywighede van ‘n misdaad-sindikaat in ‘n eksklusiewe gholflandgoed buite Mosselbaai. Vanweë hulle ‘vanilla-voorkoms‘ word Thys & Trix vir die eerste keer uitgesonder as die bekwaamste span om ‘n ondersoek te lei, of eerder te laat ly, maar die feit dat hulle moet voorgee om ‘n getroude paartjie te wees om die ondersoek geloofwaardig te maak, bemoeilik die situasie. Solomons sal hulle vergesel, maar is glad nie ingenome met die feit dat hy die butler gaan wees nie.
Is enige van Thys & Trix se nuwe bure moontlik betrokke by die vervaardiging en verspreiding van MTHC, ‘n verlammende hallusineringsmiddel?
Die film word vervaardig onder leiding van Danie Bester van The Film Factory en die regie is behartig deur die bekroonde regisseur Quintin Krog van ‘Vir Die Voëls‘ en ‘Ballade vir ‘n Enkeling‘.
Thys & Trix word landswyd op 22 Junie 2018 deur Ster-Kinekor Entertainment uitgereik. GrootFM is die trotse mediavennoot van die film.