As jy onvoorwaardelike liefde wil ervaar begin by jouself…
Agapé, van griekse afkoms, beteken onvoorwaardelike liefde. “Ek sal jou trane afvee wanneer dit soos riviere stroom” sing Tussen Sterre. Hierdie trio is opgewonde om hule nuwe engkelsnit, Agapé bekend te stel.
Soms loop ons almal maar met ons harte op ons mou, maar om onvoorwaardelik lief te hê is altyd mooi, altyd goed. Dit beteken om lief te hê ongeag al die foute wat ons maak, lief te wees ongeag of dit verdien word of nie. Net onvoorwaardelik! Agapé hoef nie noodwendig eers ‘n gevoel te wees nie maar daardie gewillige besluit om iemand anders voor jouself te sit, ongeag wat. Luister hieronder…
Maar wie en waar is Tussen die Sterre?
Dit is die droom van duisende jongmense om eendag hul eie Rock Band te stig, maar dit gebeur selde dat 3 super talentvolle jong ouens hulle idees saamgooi en ‘n nuwe projek aanpak. Soveel groepe klink dieselfde, maar Tussen Sterre is verseker die uitsondering op daardie reël.
SJ van Dyk, Martin Clifford Earle en Jan-Mattys van Lill is die drie lede van hierdie nuwe Afrikaanse Pop/Rock groep wat in 2015 gestig is. Hulle eerlike lirieke, energieke musiek en elektriese klanke sal aanklank vind by oud en jonk en hulle eerste enkelsnit is reeds baie populer by hulle aanhangers.
Tussen Sterre se passie vir musiek is so groot soos hulle toewyding tot die Afrikaanse taal. Dit blyk duidelik uit hulle lirieke. Daar verskyn geen Engelse woorde in hulle musiek nie, verseker ’n eerste in die Afrikaanse Pop/Rock genre. Hulle beplan om die Afrikaanse musiekmark te revolusioneer met hulle unieke skryfstyl en passie om die taal lewendig te hou. Al drie van hulle is kranige musikante en spesialiste in hulle veld. Van Dyk speel dromme, kitaar en klavier, Clifford is ‘n kitaaronderwyser en van Lill ‘n sangonderwyser.
Hulle eerste enkelsnit was Wonder Steeds. Carmen Pretorius het die hoofrol in die musiekvideo vertolk. Daarna was dit Vir Ewig ‘n Goeie Tyd wat almal natuurlik in ‘n vakansie bui gesit het. Hulle het toe bietjie cowboys en crooks gespeel met hul musiekvideo van Wenteldans. Hul vorige enkelsnit en video onlangs, was Hemelrym saam met Bouwer Bosch. Luan Jacobs het die hoofrol in hierdie liedjie se video vertolk. Al hierdie videos is gemaak deur The Reel Thing Film Productions. Hulle musiek is ook beskikbaar op iTunes.
Tussen Sterre was ook hierdie jaar vir 3 Ghoema toekennings benoem, in die Kategorieë van Beste Nuweling van die Jaar, Beste Rock Album van die Jaar, en die Publiek se Gunsteling. Hulle het ten einde met die Ghoema vir die Publiek se Gunsteling Duo of Groep, weggeloop.
“Mens maak nie net musiek nie, jy verduidelik emosies wat oor die algemeen moeilik is om met woorde te sê” vertel Tussen Sterre.
Die sterre lyk blink vir hierdie 3 jong manne, kyk hoe hulle skitter op, op tussensterre.co.za