Home / Archives / Small Screen Archives / Tyd met Aleit

Tyd met Aleit

Dis hoogtyd vir Tyd met Aleit

Aleit Swanepoel

Niemand sit so gemaklik die styl in leefstyl soos Aleit Swanepoel nie. Vanaf 5 April om 17:30 gaan Aleit op kykNET (DStv-kanaal 144) wys hoe jy van enige kuier ’n spesiale geleentheid maak, wanneer hy met sy mandjie vol verrassings ’n verskeidenheid bekende Suid-Afrikaners se huise besoek.

Tyd met Aleit is ’n leefstylprogram van 13 episodes waarin Aleit elke keer ’n pragtige tafel dek terwyl die gaste die bestanddele van sy raaiselmandjie in hul eie toets moet inspan om iets op te tower met die vaardighede waarvoor hulle bekend is. Aleit mag egter slegs gebruik wat hy binne die gaste se huise kan vind om te demonstreer hoe ’n mens met enige iets en in enige huis swierig en indrukwekkend kan onthaal.

Aleit is een van Suid-Afrika se top-troubeplanners, maar hy het ook al plaaslik en internasionaal sy stempel afgedruk met allerhande onvergeetlike glansgeleenthede wat altyd getuig van sy fyn aanvoeling vir elegante styl en dekor. Hy word nie geïnspireer deur kontemporêre tendense nie, maar eerder deur unieke, tasbare ervaringe. Reis, ontwerp, argitektuur, natuur en gastronomie is alles velde wat sy kreatiwiteit stimuleer.

Gooi dus nou vir Aleit saam met bekendes soos Amy Kleinhans-Curd, Spoegwolf, Portchie, Jackie Burger, Elsabé Daneel en Refentse met ’n uitdaging vir elkeen, en jy kry jy lekker stories en baie vermaaklike televisie. Aleit se toordery met alledaagse huisgoed sal kykers inspireer om hul eie tafels beeldskoon te begin dek. Jy kry idees oor hoe om verbeeldingryk tuis te onthaal saam met ’n intieme kykie in die huise en lewens van verskeie celebs.

En dis nie net die mense, huise en tafels wat mooi gaan wees nie. Jorrie van der Walt, die talentvolle kinematograaf van onder meer Die Boekklub, gaan sorg dat elke skoot na ’n toneel uit ’n kunsfliek lyk.

Kom kuier saam met Aleit en vind uit hoekom hy ’n reputasie het vir innovering, eerlikheid en ’n diep liefde vir mense. Sy huis staan altyd oop vir vriende, familie en selfs vreemdelinge in nood. Hy is ’n toegewyde pa van ’n 7-jarige dogtertjie, Kateline. Dit maak hom ook daardie raserige een wat by atletiekdae luidkeels sy spruit oor die wenstreep juig.

Tyd met Aleit is vanaf Woensdag, 5 April 2017, om 17:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) te sien.

Comments are closed.

Scroll To Top