Verona ontmasker haar talent met eerste enkelsnit.
Verona, met haar strelende stem, het beslis geen bekendstelling nodig in vermaakkringe nie. Dié kleindorpiemeisie van Meyerton het oor die afgelope paar jaar nie net naam gemaak as realiteitsprogramster, radio-omroeper en televisieaanbieder nie, maar ook as joernalis, vervaardiger en sanger.
Haar eerste Afrikaanse enkelsnit, Maskers, is pas vrygestel en het reeds die publiek gaande. Die snit, wat deur haar en Hugo Ludik geskryf is, het ‘n folk-pop-aanslag met betekenisvolle lirieke en ‘n meesleurende wysie wat die luisteraar vir lank sal bybly. Volgens Verona, was ‘n vriend van haar die inspirasie agter hierdie treffer.
Verona was vier jaar oud toe haar talent vir die eerste keer ontdek is. Gedurende haar skoolloopbaan het sy gereeld aand Eisteddfods, skoolkonserte en kunstefeeste deelgeneem. Sy het ook haar Trinity Concert Certificate voltooi. Vir vier jaar was sy deel van die Suid-Gautengse Jeugkoor, Colla Vocé. Sy het so ‘n bietjie musiekteorie gedoen, speel klavier en kitaar en probeer altyd nuwe uitdagings aanpak soos om die ukulele te bemeester.
Na skool het sy eers besluit om haar sangloopbaan opsy te skuif om te gaan studeer. By die Noord-Wes Universiteit se Vaaldriehoekkampus het sy haar honneursgraad in joernalistiek voltooi. Gedurende hierdie tyd het sy die kans gekry om vir wyle die karakter, Brionay, in 7de Laan te vertolk en was ook naaswenner van die realiteitsreeks op kykNET, Jy is my liefling. Sy en haar goeie vriend, Llewellyn du Plessis, was ook die vervaardigers en aanbieders van die ASTV-reeks, Vir Ewig en Altyd, wat oor die troubedryf gehandel het.
Laurika Rauch, Amanda Strydom, Anneli van Rooyen, Koos Kombuis en Anton Goosen is van die musikante wat van kleins af ‘n invloed gehad het op Verona se musiekstyl. Die sangeres het nog baie drome om te verwesenlik, wat ‘n nuwe album, waaroor sy baie opgewonde is, insluit. Sy sal ook nog graag saam met ander kunstenaar soos Elvis Blue, Karen Zoid, Freshly Groud, ADAM en Chris Chameleon wil werk en betrokke bly in die media- en televisiebedryf wanneer sy nie op die verhoog is nie.
Maskers is beslis ‘n moet vir elke musiekliefhebber wat hou van liedjies met ‘n boodskap. Die kombinasie van betekenisvolle lirieke, ‘n vars en unieke lekkerluister-klank en ‘n uitsonderlike stem, is die perfekte bestanddele vir ‘n treffer wat oor baie jare steeds oor die radio gehoor gaan word.
Stage and Screen sal die video en meer inligting oor Verona se album publiseer, sodra dit vrygestel word.
Die foto van Verona in die atlejee is vanaf haar Facebook Bladsy.