Bennie Boekfilms en Bouwer Bosch Films bring die Film van die Jaar!
deur Louw Mulder
Verbeel jou ‘n eg-Afrikaanse produksie, gevul met komedie, aksie, en van ons land se top name in een film, en jy sal vining wakker word, met wat ek van mening is, een van die beste Suid-Afrikaanse vollengte speelfilms van hierdie jaar is. Nie net omdat dit met vyf toekennings by die 2017 Silwerskermfees weggeloop het nie, maar ook omdat Vuil Wasgoed iets heeltemal nuuts bied vir enige flimliefhebber.
Vuil Wasgoed handel oor twee ouens wat in ‘n wassery werk. Die een is dom, die ander een neem die leiding. Hulle ontdek op ‘n baie interessante manier ‘n afgekapte vinger in een van die baadjies wat gedroogskoonmaak moes word. Hierdie vinger, nog met ‘n baie duur ring aan, is die onderwerp van ‘n groot familie fiasko in die bende sirkels, wat nou hulle visier op die twee doodnormale Kevin en Wim fokus. ‘n Pure Afrikaanse kat-en-muis storie volg, met kinkels in die kabels, asook ‘n einde wat niemand kan voorspel nie.
Uit die pen van Bennie Fourie, kom Vuil Wasgoed, ‘n splinternuwe Afrikaanse film wat alles insluit; romanse, komedie, selfs aksie en verraad. Fourie se flymskerp, uiters skerpsinnge en skreeusnaakse draaiboek sit die kersie op die koek, wat hierdie produk ‘n nuwe dimensie gee, as net nog ‘n storie op die silwerdoek.
Wat hierdie teks meer krediet gee, is die bekwame en goed deurdunkte rolverdeling, waar die akteur volkome instaat was om elke unieke eienskap van sy karakter, tot lewe te roep. Vir sy spel in die hoofrol as Kevin, het Fourie reeds die toekenning vir beste akteur by die Silwerskermfees losgeslaan, maar ek glo vas dat deel van sy sukses te danke is aan ondersteunende spel, soos diè van Stiaan Smith, asook die drie bende-broers, Tim Theron, Nico Panagio en Charlie Bouguenon. Tussen die dorings was daar selfs die rose, soos Leandie Du Randt-Bosch en die talentvolle Simone Nortmann, wat kleur tussen al die swart in die spanning gebring het.
Theron se karakter word al vroeg in die film bekend gemaak as die skelm van die storie. Volgens my, kan hierdie spel van Theron beskou word as die beste nog van sy loopbaan, kort op die hakke van sy vertoning in Deon Meyer se Jagveld. Ek het gedink dat sy sjarme en geheimsinnige glimlaggie onder sy kort baardjie, bygedra het tot die persona wat perfek gepas het by diè van Tom, Theron se rol.
Die beste ervaring vir my met so ‘n film, wat ook baie bydra tot die welslae van ‘n fliek, is wanneer ‘n akteur ‘n optrede gee wat die opinie oor hom heeltemal verander. Dit was die geval met Bouwer Bosch se spel. Die vertolking van sy rol as Wim, was uitstekend, snaaks, en nommerpas vir die karakter. Ek persoonlik dink nie dat die flim die woema sou gehad wat dit het, sonder Bosch se bydrae nie.
As vervaardigers van Vuil Wasgoed, het Fourie en Bosch saam met Danie Bester van The Film Factory ‘n film op die lappe gebring wat verras het met die inhoud, die ontwerp, asook die oorspronklikheid daarvan. Baie van die lof aan die kreatiewe kant, moet gaan aan die toegekende span, soos Produksie Ontwerper, Merishen Wessels, wat vir haar werk met die Beste Produksie Ontwerper by die Silwerskermfees die jaar weg gestap het.
Ook op hulle span, was Quinn Lubbe en komponis Benjamin Willem, wat by die 2017 Silwerskermfees met die pryse vir Beste Redigering en Beste Klank Ontwerp en Oorspronklike Musiek onderskeidelik weggestap het. ‘n Mens sal nogal dink dat Ek Lewe van Anneli van Rooyen in ‘n ander tipe flim sou hoort, maar die insluit daarvan in Vuil Wasgoed, het vir my baie goed gewerk. Eduan Kitching was die Kinematograaf, met Maritsa Maritz wat as Grimeerkunstnaar die skepperspan van Vuil Wasgoed voltooi het.
Alles het ten einde puik bymekaar gekom onder die leiding van die regiseur, Morne du Toit, wat die toekenning vir Bester Regisseur by vanjaar se Silwerskermfees opgeraap het. Daar is geboue wat opgeblaas word, skietgevegte wat lei tot bloedige affêres, asook ‘n ongeluk waar ‘n ontrou vrou haar les geleer word buitekant ‘n kluis… Hierdie alles het du Toit bemeester, om ‘n storie op die groot skerm te bring wat hierdie Kersfees tonne pret vir almal gaan besorg.
Vuil Wasgoed begin 8 December 2017 landswyd draai, en dit beloof om skoonskip die film vir die seisoen te wees.
Dankie dat jy hier was…