Afrisaam Fees 2019 vier weer Afrikaans-Wees.
Afrikaanse musiek van ‘n Top Klas, heerlike feeskos en ’n veilige kindertuin waar die kinders die dag kan spandeer terwyl die ouers lekker kuier, is hoe die organiseerders van die jaarlikse Afrisaam Fees wat vir ’n vyfde keer aangbied word, hierdie jaar se verwagtinge beskryf.
Hier is sommer ‘n kykie na verlede jaar se fees, toe Dirk van der Westhuizen sy musiekvideo daar opgeneem het:
Vanjaar se fees wat op Saterdag, 8 Junie 2019 gehou word huisves weer eens die immergewilde Steve Hofmeyr. Dirk van der Wezthuizen, Juan Boucher, Bobby van Jaarsveld, Chrizaan, Arno Jordaan, Caroline Grace, Arno van der Hoff, Alida en Die Kontrak se Ivan Roux en Demi Lee Moore sal ook op die fees te sien wees. Pieter Koen, wat ’n verrassing of twee saam bring, en Henry Bruinette sal as seremoniemeesters op die fees optree.
Daar’s ook hope pret en plesier met kindervermaak vir oud en jonk – ’n nuutjie op die feesprogram. Dié fees bied ’n platform vir Afrikaans waar álle Afrikaanse kunstenaars welkom is. Benewens al die musiek en ander feestelikhede kan feesgangers ook uitsien na sowat 50 stalletjies – van heerlike eet- en drinkgoed tot handgemaakte produkte.
Hierdie jaar kry die fees ook ’n nuwe tuiste en sal op die sportgronde van die Spings Tegniese Hoërskool plaasvind. Dit is sentraal geleë, slegs 500m vanaf die N17 hoofweg (Witweg-afrit) en is dus baie toeganklik. Daar is ook hope spasie en veilige parkering.
Die Afrisaam Fees is ’n Afrikaanse saamstaan en saamdans makietie. Ons kom saam, om in ons taal, ons musiek, ons herkoms en ons toekoms te vier.
Kaartjies vir die vyfde Afrisaam Fees kos R180 vir volwassenes en hoërskool kinders. Laer- en voorskoolse kinders kry gratis toegang. Kaartjies is beskikbaar by www.afrisaamfees.co.za of by die feeskantoor op Springs.
Die Afrisaam Fees word aangebied met The Marketing Zoo as bemarkingsvennoot en Afrikaanse Musieknuus as aanlyn mediavennoot.