Bennie Fourie ‘n Ander mens in Nuwe Fliek.
Een les wat die lewe graag vir ’n mens wil leer, is dat niks ooit so eenvoudig is as wat dit mag voorkom nie. ’n Feit wat bevestig word deur regisseur Quentin Krog se splinternuwe rolprent, Ander Mens, wat net soos die hoofkarakter glad nie volgens ’n standaard-formule beoordeel kan word nie.
Die fliek word aangebied vanuit die perspektief van Luitenant Erica Kruger, van die getuiebeskermingsprogram in die Kaap, en is gebaseer op die bekroonde skrywer, Zirk van den Berg se topverkoperroman wat in 2014 bekroon is met die kykNET-Rapportprys in die rolprentkategorie.
Ander Mens vertel, met oorgenoeg aksie en donkerhumor om kykers op die punte van hulle stoele te hou, die spanningsvolle verhaal van ’n doodgewone en baie vervelige boekhouer, Daniël Niemand, wie se lewe onherroeplik verander nadat ’n reeks misverstande sy bestaan heeltemal omvergooi. Alhoewel die chaos tot groot tragedie lei, help dit hom ook om ’n belangrike persoonlike oorwinning te behaal.
Bennie is briljant in die rol van die bleeksiel, Daniël, wat sy hele lewe lank deur die mense rondom hom geboelie word. Sy saai bestaan verander egter gou in ’n nagmerrie wanneer ’n konfrontasie met sy huweliksberader, deur Tim Theron, skeefloop en sy skelm werkgewer en misdaadbaas, Frank Redelinghuys, gespeel deur Frank Opperman, hom help om die gemors skoon te maak.
Wanneer nuwe inligting Frank se aardsvyand, die polisieman Johannes Ackermann, deur James Borthwick die perfekte geleentheid gee om uiteindelik hierdie krimineel en sy broer Hansie, gespeel deur André Weideman vas te trek, word Daniël onwetend as lokaas gebruik en onder die toesig van Erica Kruger (Marlee van der Merwe) geplaas wat ’n paar donker geheime en agendas van haar eie het.
Ander sterre soos Jana Cilliers, Lika Berning, Clyde Berning, Neels van Jaarsveld, Laudo Liebenberg en meer is ook in die fliek te sien.
As regisseur, was Quentin ook baie oop vir kreatiewe voorstelle en verklap hy dat verskeie tonele op die laaste oomblik spontaan aangepas is as gevolg van die akteurs se interessante interpretasie daarvan.
Tussen die bloed en konsternasie deur, sal die kyker beslis gekonfronteer word met baie stereotipes, maar ook gou besef dat Ander Mens dieper temas soos afknouery, selfbeeld, respek, verhoudings, familiebande, geweld en misdaad aan die kaak stel, wys dat selfs die mees geharde persoonlikheid ook soms weerloos kan wees én dat ’n Niemand op die ou einde ook kan ontwikkel in ’n Iemand wat kan opstaan vir homself. Die rolprent beloof om gehore met tye te laat skaterlag as gevolg van spitsvondige dialoog en donker humor, asook te laat naels kou soos wat die gebeure ontvou en hulle besef dat dit elke mens se verantwoordelikheid is om sy eie identiteit in die lewe te bepaal.
Ander Mens is vervaardig deur Marche Media in samewerking met kykNET Films, M-Net Movies en die Departement van Handel en Nywerheid en word versprei deur Filmfinity (Edms) Bpk. en sal by plaaslike bioskope begin draai op 23 Augustus 2019.