Add-Life Produksies se nuwe Panto bring kleur en klank
deur Coen Jacobs
Sprokiesverhale met hul elemente van woude, kastele, waters en koninkryke is al vir duisende jare deel van elke kultuur, veral stories wat op die verhoog in soveel vorms vertel word. Een van die bekendste sprokies, Doringrosie; Die slapende Skone, het pas geopen as die derde Afrikaanse pantomime deur Add-Life Produksies, na die sukesvolle Aspoestertjie met Karlien van Jaarsveld in 2015, en Sneeuwitjie verlede jaar, met Nadine in die hoofrol.
Tydens die openingsvertoning, is verskeie glanspersoonlikhede, en ook hulle kroos, weggevoer na ‘n fantasie wêreld van klanke, kleur en vreemde karakters. Die kinderlike opgewondenheid was van vroeg af duidelik sigbaar, nie net op die gesigte van die jongspan nie, maar ook die ouer gardes wat vir ‘n oomblik die realiteit ontvlug het na ‘n plek, ver ver van hier.
Doringrosie is ‘n panto in elke sin van die woord, maar wat dit meer spesiaal maak, dit is in ons moedertaal. Van skreeusnaakse mans in vrouegewaad, feëtjies op fietse, prinse op Harley Davidson bromponies, tot ‘n spierwit sprokiestroue, was die Theatre of Marcellus omskep in ‘n genotvolle ervaring.
Die produksie is ‘n vermening van eendag, lank lank gelede, maar bevat selfs elemente van eendag, nie so lank lank gelede nie. Visueel is dit vir die kleinspan ‘n kleurryke ervaring, maar die draaibroek is ook baie vermaaklik vir die meer volwasse oor. Hedendaagse aspekte van ons eie kultuur en konteks word op ‘n skerp humoristiese wyse oorgedra, en ek moet die skrywers op hulle baatjie takseer. Ernstige kenmerke van ons tyd word deurgaans deur die teks gebruik, maar spoor die gehoor aan om dinge soms ook deur ‘n ligter lens te sien.
Die rolverdeling het egter die karakters soos sprokies-handskoene gepas. Charlize Berg het die hoofrol gespeel, met haar bose opponent Belladonna, wat vertolk is deur Bianca le Grange. Ander rolle sluit in die alomteenwoordige panto-prins, met Marno van der Merwe as Prins Aalwyn, en Clint Lesch as Koning Knopkruid. Die formele sang-ervaring van Lesch is baie duidelik, en bring ‘n heeltemal anderse dimensie aan die gevoel van die produksie.
Maar die vermaak van die aand gaan natuurlik aan die twee goeie feë, wat natuurlik vir vlymskerp humor, met soms tong-in-die-kies sê-goed gesorg het. Hannes Brummer en Tiaan Rautenbach was in hulle elemente met hierdie fopdos kostuums, en dit was duidelik hoe die gemak met hulle rolle giggelend bygedra het tot die doel van hulle karakters.
Agter die skerms van Doringrosie was groot name in die Afrikaanse vermaaklikheids bedryf. Weslee Lauder het die regie behartig wat al die elemente bymekaar gebring het. Die choreograaf, Jaco van Rensburg het ook dans-dans daarin geslaag om die hele verhoog lewendig te maak deur sy gebruik van klassieke, asook meer moderne roetines.
‘n Panto is nie ‘n Panto sonder die passende musiek nie. Verskeie Afrikaanse treffers is op ‘n sprokiesagtige wyse geskep en verwerk om by te dra tot die verbeelding van die gehoor. Wat anders kan ‘n mens van ‘n musikale genie Heidi Edeling verwag? Edeling was ook die musiekregisseur, en het saam met Franscois Steyn die verwerkings gedoen.
Op die verhoog, met Renier Keyser en Nadine Minnaar wat verantwoordelik was vir die stelontwerp, en die kostuums deur Trudie Ströh en Lise-Marie Keyser, het die sigbare storie lewe gekry onder die beligting deur Simon King. Dit was asof die verskeie sprokiestonele elkeen in die gehoor laat voel het asof die sprokiesverhaal lewe kry, reg daar in Sprokiesland.
Hierdie produksie van Doringrosie; Slapende Skone, beloof om een vir die boeke te wees. Gaan kuier gerus in feëtjieland, of as jy wil, Kok-A-Toor, saam met die twee feëtjies, Kruidjie-Roer-My-Nie en Vygie Fynbos, as hulle hul towerstawwe swaai om jou te neem na ‘n onvergeetlike land.
Hierdie land is nog besoekbaar tot 4 Junie, by die Theatre of Marcellus, in Emperor’s Palace.