Home / Archives / Big Screen Archives / Frank and Fearless

Frank and Fearless

Nog niet die Laaste van Schuster!

Hou vas aan jou sitplek want die grapjas, Leon Schuster, is terug met ’n splinternuwe goedvoel-komedie, met skreeusnaakse insidente en ’n inspirerende storielyn, wat kykers vasgenael sal hou van begin tot einde.

In ware Schuster-tradisie, volg Frank & Fearless die wenresep van pittige komedie en humoristiese sosiale kommentaar waarvoor Leon se vorige werk, soos There’s a Zulu on my Stoep en Mr. Bones, bekendheid verwerf het. Saam met mede-skrywer en regisseur, Gray Hofmeyr, vat hy dit egter verder deur ’n baie relevante en kontroversiële storielyn in te werk, met ’n diep emosionele impak, wat dit kop-en-skouers laat uitstaan bo enige van dié ikoniese filmmaker se vorige werk.

Die fliek, wat in Afrika afspeel, neem jou op ’n opwindende avontuur wanneer ’n hartlike ou man, Sonny Frank (Leon Schuster), en ’n tienjarige plattelandse Afrika-seun, Fearless (Themba Ntuli), besluit om Suidoos-Asië se ambassadeur te ontvoer in ’n poging om die uitmoor van renosters stop te sit. Saam met hulle op hierdie missie, is twee viervoet-vriende, wat bydra tot die pret en hart van die verhaal. Reini is ’n babarenoster wie se ma deur stropers doodgemaak is en Dog is Fearless se lojale swart brak. Wanneer dinge egter erg skeefloop, word hulle gedwing om ’n peleton genadelose stropers aan te vat, waaronder die skrikwekkende eks-wildbewaarder, Dolf (Kenneth Nkosi), met wie Sonny ’n geskiedenis het. Die emosionele hart spruit, natuurlik, voort uit elke karakter se persoonlike reis.

Buiten vir uitstaande kinematografie en pragtige natuurtonele, sluit die rolprent ook indrukwekkende toneelspel in en spog dit met ’n sterbelaaide rolverdeling. Leon Schuster is puik in die rol van die onseker spoorwegsjef en versamelaar van inheemse speserye, terwyl nuweling, Themba Ntuli (Meerkat Maantuig), die perfekte keuse was om die komplekse Afrika-kind, wat bang is vir sy eie skaduwee, te vertolk. Kenneth Nkosi (Tsotsi), Khanyi Mbau (Happiness is a Four Letter Word), Jennifer Steyn (Goodbye Bafana, Madam and Eve) en David Dennis (Soul City) is ook in die fliek te sien.

Frank & Fearless  beloof om kykers te laat skaterlag, maar ook diep te raak met die ernstige onderliggende boodskap en persoonlike oorwinnings, wat sal aanklank vind by oud en jonk. Die film word plaaslik versprei deur Filmfinity (Pty) Ltd en sal op 23 November 2018 landswyd uitgereik word.

Comments are closed.

Scroll To Top