Strome van Lewe vir ‘n Silwer Siel.
Jacobus Silwer en die liefdadigheidsorganisasie, ENGO waarvan hy ’n ambassadeur is, is tans op almal se lippe nadat hy onlangs ’n treffende nuwe enkelsnit uitgereik het wat geïnspireer is deur dié organisasie se doel om hoop en lig in die donker te wees.
Jacobus is ’n groot voorstaander van die “skoonblaadjie omslaan”-benadering wanneer dit kom by foute, verkeerde besluite en slegte gebeure. Strome Lewe vertel van só ’n oorbegin-situasie, hetsy dit ’n groot verjaardag, nuwe jaar of lewensfase is wat begin.
Strome Lewe is die sesde enkelsnit uit die musikant se eie pen en pas sy growwe stem soos ’n handskoen. Dit het ’n moderne kontemporêre aanslag en gaan daaroor om vrede te maak met dinge wat in jou verlede gebeur het. Die snit se meesleurende wysie is nie net strelend op die oor en hartsnare nie, maar is ook een van daardie liedjies wat in jou kop bly vassteek – lank nadat jy dit vir die eerste keer gehoor het.
Die musiekvideo, wat op ’n lang stuk reguit pad buite Bloemfontein in die warm Vrystaatse son verfilm is deur Francois Slabbert van Palm Photography, beeld uit hoe lig ’n mens se lewe kan wees as jy bereid is om die bagasie van die verlede af te skud. Die storie handel oor ’n nuwe pad wat oop en uitgestrek voor mens lê, maar aan die begin stap jy met al hierdie sakke op jou rug.
Wanneer Mnr Silwer musiek luister, is dit gewoonlik liedjies met ’n mooi melodie. Hy geniet enige genre of styl, van klassieke musiek tot Rock en Blues. Verder vind hy aanklank by kunstenaars wat die tyd deurstaan het. Plaaslik mense soos André Swiegers, Coenie de Villiers, Richard vd Westhuizen, Amanda Strydom, Lucas Maree, Anton Goosen, Valiant Swart, is almal kunstenaars wie hy bewonder, asook die nuwelinge Elvis Blue, Bouwer Bosch, Joshua na die Reën, Twee, RKO, Spoegwolf om net ‘n paar te noem. Hy lys ook oorsese kunstenaars soos Andrea Bocelli, Bob Dylan, Neil Diamond, Bob Seger, Labrinth, Zac Brown Band en Mumford & Sons as van sy gunstelinge.
Jacobus Silwer glo, net soos Shakespeare, dat die aarde musiek het vir diegene wat wil luister en hy wil graag die klanke wat in sy hart leef met die wêreld deel. Die moderne benadering en sielvolle vertolking van Strome Lewe en sy unieke stem, is die perfekte pasmaats vir ’n eindproduk wat nie net ’n omwenteling gaan veroorsaak in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf nie, maar ook diep in die publiek se harte gaan nesskop.
Strome Lewe is beskikbaar op alle digitale platforms.