ʼn Baie persoonlike biografiese rolprent gebaseer op die roman van Elsa Joubert
Vervaardiger Helena Spring het aangekondig dat die nalatenskap fliek, Poppie Nongena op 30 Januarie 2020 in fliekteaters landswyd uitgereik sal word. Die fliek is gebaseer op die bekroonde boek “Die Swerfjare van Poppie Nongena” deur Elsa Joubert.
Clementime Mosimane maak haar rolprentdebuut as Poppie. Die res van die rolverdeling sluit groot name in, soos Anna-Mart van der Merwe, Dawid Minnaar, Rolanda Marais en Lida Botha. Nomsa Nene, wat die naamrol vertolk het in die verhoogproduksie Poppie – wat ook van 1982 tot 1984 internasionaal opgevoer is – vertolk die rol van Poppie se ma.
Poppie Nongena vertel die aangrypende verhaal van ʼn Afrikaanssprekende Xhosa-vrou wie se lewe om haar gesin draai terwyl sy probeer om stabiliteit te vind in ʼn era van ondraaglike onrus in Suid-Afrika. Dit speel in ʼn tyd af waarin swart vroue deur boetes, arrestasies en gedwonge verskuiwings gedwing is om hul tuistes te verlaat om in afgeleë gebiede, die sg. swart tuislande, ʼn nuwe lewe te gaan begin.
Wanneer Stone, Poppie se man, te siek word om te werk, beskou die owerhede haar skielik as ʼn onwettige burger in haar eie land. Sy voer ʼn desperate stryd om wettiglik te mag bly, al beteken dit sy moet van huis na huis trek en gedurig aansoek doen vir permitte en verdere uitstel. Poppie werp alles in die stryd om nie van haar kinders geskei te word nie. Maar uiteindelik word sy vasgevang in die spervuur van haar kinders se behoeftes, haar man se siekte, ʼn gemeenskap se woede en onderdrukkende wette. In 1976 – net toe die onluste uitbreek – word Poppie uiteindelik gedwing om die stryd gewonne te gee.
Die roman is wyd geloof en word steeds beskou as baanbrekerswerk in die Afrikaans letterkunde. Dis binne die eerste vier maande drie maal herdruk en uiteindelik in dertien tale vertaal. Plaaslik is dit bekroon met die W.A. Hofmeyr-, CNA- en Louis Luyt-prys. Die British Royal Society het Joubert bekroon met die Winifred Holtby-prys en sy is in 1981 aangewys as ʼn “Fellow of the Society”. Joubert se latere werk is bekroon met talle plaaslike en internasionale pryse, onder meer die Hertzogprys, die mees gesogte prys in die Afrikaanse letterkunde.
Die veelbekroonde dramaturg en regisseur Christiaan Olwagen het die regie behartig, en Vicci Turpin was verantwoordelik vir die kinematografie. Olwagen was die regisseur van drie vorige rolprente (Die Seemeeu, Johnny is nie dood nie en Kanarie). Die draaiboek is deur Olwagen en die bekroonde dramaturg Saartjie Botha verwerk.
Poppie Nongena word moontlik gemaak deur kykNET, M-Net, FilmFinity, Die Departement van Handel en Nywerheid en Arco. Dit word landswyd in rolprentteaters in Januarie 2020 bekendgestel.