SA se eie Afrikaanse Chick Flick oppad
Hierdie Desember kan Suid-Afrikaanse fliekgangers uitsien na die uitreiking van die splinternuwe rolprent “Susters.”
Die verhaal gaan oor drie aangenome susters wat van mekaar vervreemd geraak het en hoe hulle op ‘n ontdekkingsreis gaan met die afsterwe van hul moeder. Dis ‘n reis gevul met tere herinneringe, interessante karakters, ongelooflike mooi plekke en dit wat die skoner geslag baie goed mee is – hoe om sakke vol pret te hê.
Die rolverdeling sluit in Leah, die veelbekroonde sangeres met albumverkope wat goue status breik het en bekend is vir haar rolle in As Jy Sing en Sterlopers. Nog ‘n suster word gespeel deur Quanita Adams, self geen vreemdeling vir die kollig nie met heelwat televisie- en filmrolle agter haar naam. En die derde suster is niemand anders nie as Diaan Lawrenson, bekend vir haar rol as Paula in 7de Laan. En dis maar net die hoofrolle – kykers kan hulle gereed maak vir heelwat verrassings met bekendes wat kleiner rolle gaan vertolk.
In die regisseurstoel is Corné van Rooyen, bekend vir sy werk op Hollywood in my huis en Vaselinetjie. Die draaiboek is geskryf deur Corine du Toit en Sandra Vaughn, wat saam ‘n magdom film- en TV-reeksdraaiboeke agter hul naam het, insluitend Semi-Soet. Dis ook nie aldag wat ‘n vrou in beheer is van kinematografie nie, maar Sunel Haasbroek verleen ‘n unieke vroulike uitkyk op hoe die susters die wêreld om hulle sien. Die vervaardigers van Susters is Jenny Griesel, bekend vir haar werk in die media, liefdadigheid en bemarking van die land se top glanspersone, saam met die bekroonde liedjieskrywer, Johan Vorster. En waar Johan is, is daar natuurlike ook goeie musiek, dus as musiekregisseur, kan almal ‘n klankbaan van hoë gehalte te wagte wees.
Susters word moontlik gemaak deur die trotse samewerking tussen Inhoud Huis Media en kykNET en word op die 1ste Desember landwyd vrygestel, net betyds vir daardie vakansiegevoel wat gesinne saambind.