Ek is perfek, want God maak nie Foute nie.
Deur Louw Mulder
Vroeg in die openingstoneel, ontmoet die kyker die ‘n asemrowende mooi sonsopkoms oor die Namakwalandse berge, maar so raak hierdie natuurskoon vinnig bitter-soet as dit die agtergrond skep vir ‘n ma wat lewe gee aan haar baba, en diè net daar los. Die kyker kom aandagtig tot die idee van die tema geroep, en so word Vaselinetjie gebore.
Dit was my eerste indrukke by die Premiere van Corne van Rooyen se nuwe Afrikaanse rolprent, Vaselinetjie, wat onlangs in Johannesburg gehou is. Koud, is dalk ‘n goeie beskrywing van die voorstellende tonele, maar soos ons heldin groei, en deur die bestek van die film haarself met haar eie identiteit vereenselwig, so verander hierdie koue tot ‘n gevoel van warmte teen die slot van die fliek.
Vaselinetjie is gabaseer op die boek van Anoeschka van Meck, en vir die silwerdoek aangepas deur van Rooyen en sy vrou Renè. Die tema en storielyn van die verhaal word eers duidelik verklaarbaar heel na die einde toe, na die kyker op ‘n tuimeltrein van emosiesies gestuur is. Vir my, al is die gemiddelde ouderdomme van die karakters diè van skooltieners, dink ek immers die ideale teikenmark vir Vaselinetjie, is jong- na middeljarige volwassenes.
Onderliggende temas in Vaselinetjie se verhaal, spreek allerdaagse verskynsels aan, soos diè van selfmoord, fisiese en emosionele boelies, rasse konflik op skoolvlak, die vernedering en verwerping van ouerlose, onskuldige kinders, en selfs die onnodige nagevolge van jong mense wat hulle rug op negatiewe en verkeerde groepsdruk draai. Dis dan wanneer ons as ouer mense op hierdie wip-waentjie rit terugflitse kry na waar onsself dalk in so ‘n situasie was, waar die sentiment, en kern van Vaselinetjie se storie, raak begin vat. Vir die jong span, is die les uit Vaselinetjie se verhaal juis dit, dat eendag die son weer sal skyn, want “Ek is perfek, God maak nie Foute nie.”
Die manier hoe Vaselinetjie vervaardig is, het vir my suksesvol daarin geslaag om die emosies, hartseer, en tog soms prettige milieus van al die karakters in die storie by die kyker te laat aanklank vind. Die jong mensies wat verantwoordelik was om elke karakter se persoonlikheid aan die kyker oor te dra, was verfrissend, en oulik. Nicole Bond, Ashley Hawla, Anchen Du Plessis, Daniah de Villiers en Rowan-Raine Pretorius onder andere, doen juis dit.
Waardig om te noem, is die welslae wat van Rooyen met die tiener stêrre gehad het, wat in hulle beurt weer verantwoordelik was om die storie uit te sien. Marguerite van Eeden het die rol van Vaselinetjie vertolk, langsaan Melita Steyn en Elani Dekker, wat hul eie karakters se skoene vol gestaan het. Gesoute akteurs, wat in Vaselinetjie meer as ondersteunende rolle op tree, sluit in Royston Stoffels, Karin van der Laag, David Mello met ‘n baie indrukwekkende vertolking van ‘n swart berader, asook die diep, veelsydige en talentvolle Shaleen Surtie-Richards.
Maar dan was daar die drie, seker omdat ek myself kon vereenselwig met elkeen van hulle se storie, en die effektiewe, nog been-skrapende wyse waarop hulle hulle storie vertel het. Marise Loots speel die ouer Albie, en met haar pop, is sy die onskuld van self. Ouer Killer, Vaselinetjie se beste vriendin, word gespeel deur Elzet Nel. Die hartseer en tragiese karakter wat Nel moet speel, het juis diepte gegee aan hoe ernstig die gebeure in die hele verhaal is.
Tog moet ek die spel uitsonder wat my die meeste beindruk het, en dit is diè van ervare jong talent, Arno Greeff, wat die rol van Texan, ook Vaselinetjie se kêrel vertolk. Deur Greeff se spel, kan ‘n mens Texan se emosies dadelik identifseer; van die oppervlakkige breker op skool, tot die diep, emosionele letsels wat deur lewensgebeurtenisse al diep gesny het. Dan praat mens nog nie van die talent wat nodig is om ‘n swembadtoneel in slegs ‘n wit onderbroek met styl te kan oordra nie…
Met die rolverdeling, het daar niks geskort nie, en is dit duidelik dat die 6-maande lange passie in die proses waar van Rooyen self sy akteurs gekies het, vrugte afgewerp het. Elke jong mens vertel sy deeltjie van die groter storie, en soms is dit nie iets wat ons as ouer teaterganger wil sien nie, maar dan sien ons Vaselinetjie terugkeer na waar sy haar storie begin het, net meer ervare, meer volwasse, die keer, met ‘n opregte glimlag, oor wie sy geleer het sy eintlik is.
Vaselinetjie begin regoor Suid Afrika draai, op Vrydag, 22 September, 2017.