‘n Film wat bevestig dat dit is als ok.
deur Christa Steyn
Om ‘n film te maak wat geestesversteurings aanspreek is ‘n brawe ding om te doen, maar dit het akteur en aanbieder, Pietie Beyers, nie ontmoedig om sy eie ervaring van obsessief-kompulsiewe versteuring in ‘n draaiboek en film te omskep nie.
Skemerson, wat dus deur ware gebeure geïnspireer is, vertel die verhaal van ‘n jong man wat aan patologiese twyfelversteuring ly. In ‘n oomblik van totale wanhoop bevind hy, Sella, vertolk deur Pietie Beyers, homself op die Bloukransbrug, waar sy pad met twee vreemdelinge, Emma (Anneke Weideman) en Lidi (Elize Cawood), kruis. Hierdie ontmoeting het nie net Sella se lewe gered nie, maar dit het ook die lewens van Emma en Lidi aangeraak.
Beyers is bekend vir sy rolle in Binnelanders, Buurtwag en Sy klink soos lente, asook vir die aanbieding van Blitsbrein, ’n speletjiesprogram wat op VIA uitgesaai word. Sy karakter, Sella, wat ironies genoeg “Place of Peace” beteken, gaan deur ‘n besondere donker tyd in sy lewe. Sella se ontmoeting met Emma en Lidi was dalk aanvanklik lukraak, maar dit was uiteindelik die kruispad wat hom gered het.
Sy mede-aktrise, Anneke Weideman, maak na ‘n sewejaaronderbreking van die toneelwêreld weer ‘n draai op die silwerdoek. Weideman werk tans voltyds as geneesheer, maar het die geleentheid om die rol van Emma te vertolk, dadelik aangegryp. Die veteraan-aktrise, Elize Cawood, vertolk die rol van Lidi, Emma se terminaalsiek ma, en ten spyte van haar siektestoestand sorg Lidi telkemaal vir komiese verligting in oomblikke van wanhoop.
Alhoewel die film hoofsaaklik ‘n uitbeelding van die stryd met ‘n geestesversteuring is, word die onderliggende tema van liefde ook aangeraak. Beyers vertel soos volg: “Skemerson is ook ’n storie oor die liefde: romantiese liefde, liefde vir almal om jou en liefde vir jouself. Dit is ’n universele storie en een van die eerlikste films wat jy ooit sal sien”.
Om sodoende berusting te kon vind, moes Sella eers liefde aan homself bewys en aanvaar dat dit “okay is om nie okay te wees nie”. Depressie en soortgelyke versteurings is nie ooglopend sigbaar soos ‘n snymerk, letsel of wond nie. Dis ‘n innerlike stryd en ‘n alleen pad wat daardie persoon daagliks moet trotseer. Sella se geesteswroeging word versterk deur die regisseur, Phillip Rademeyer se eenvoudige verteltegniek, asook gepaste en dramatiese agtergrondmusiek, met erkenning aan die komponis, Riku Latti, wat meestal die plek van oorbodige dialoog inneem.
Die enigste kritiek in hierdie opsig is dat die agtergrondmusiek tonele met tye oorheers het. Maar ten spyte hiervan het die musiek en William Collinson se voortreflike kamerawerk die Oos-Kaapse landskap op vredevolle wyse uitgebeeld.
Met die loklyn “Dis okay om nie okay te wees nie” bring die skrywer en vervaardigers ‘n boodskap van hoop aan diegene wat met geestesversteurings worstel. Danksy finansiële steun van die farmaseutiese maatskappy, CIPLA, wat ‘n verskeidenheid medikasie vir depressie en soortgelyke geestesversteurings produseer, kon die film gemaak word.
Phillip Rademeyer het die regie behartig, terwyl Palama Productions, onder leiding van Niel van Deventer, die film vervaardig het. Rademeyer, wat hoofsaaklik teateropleiding ontvang het, meen dat hierdie projek ‘n steil leerkurwe was, maar dat dit hom na aan die hart lê omdat hy self al by tye met sy geestesgesondheid gesukkel het.
Skemerson word op die 3de Mei 2019 landswyd vrygestel.
This review was voluntarily done by her, and acted purely as a trusted contributor to Stage and Screen. The views depicted in this review, are that of the contributor, but edited and published according to the established identity and standards of the publication. We thank Christa for the contribution, and hope for many more collaborations to come.