Home / Archives / Music Archives / Brendan Peyper – Dis Nie Sonde Nie

Brendan Peyper – Dis Nie Sonde Nie

Brendan stel nuwe album vry wat so lekker is

Sedert Brendan Peyper se verskyning op die Suid-Afrikaanse musiektoneel drie jaar gelede, stoom sy loopbaan met mening en tonne sukses voort.  Met sy eksplosiewe nuwe album Dis nie sonde nie, gooi hy selfs nóg kole by ‘n reeds witwarm vuur!

Die onmiskenbare Brendan-vonk vloei sterk in die album se are, met polsende ritmes, liriek, melodie en harmonie wat jou in amper anthem-styl aanspoor om die lewe en liefde meer voluit aan te gryp en werklik te lééf.

Die dertien snitte wat dit omvou, dra elkeen hul gevoelens op die mou en borrel oor met aansteeklike energie, vryheid en perkeloosheid – die tipe ding wat jou sal optel in watter bui jy ookal is; jou opnuut sal laat besef dat dit als behalwe taboe is om een honderd persent jouself te wees en die mense en dinge wat jou hart gelukkig maak, na te jaag.

Hoë tempo snitte soos die titelsnit, Maak die perde losJy laat dit maklik lykKlim jou EverestVir nou en Reg soos ‘n roer, word goed afgewissel met effens rustiger liedjies soos Mooi en Vat aan my, die Carpe Diem-snit, Die lewe’s te kort en die tong-in-die-kies Af die plaas af, met die oorgrote meerderheid van snitte wat goed oorgehaal is om ‘n dansvloer behoorlik blink te vryf!

Twee topklas Engelse bederwe is ook by hierdie album ingesluit: Brendan se indrukwekkende weergawe van John Parr se St. Elmo’s Fire (Man in motion) en ‘n ietsie uit die vurige vyftigerjare, met sy Buddy Holly Medley, wat enige iemand met ‘n hartklop, bínne ‘n hartklop, hulle dansskoene sal laat afstof vir treffers soos Oh boyThat’ll be the dayIt’s so easy to fall in loveMaybe baby en  Johnny B Goode.

Dis nie sonde nie, is ‘n album met soveel skop en lekkerkry dat jy die titel móéilik sal glo – een wat moontlik ‘n luidspreker of tien gaan sien sneuwel, maar vir al die regte redes!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

*

code

Scroll To Top